Die oom se longe

Die oom en tannie het geboer. Die ou oom kon snork dat jy hom waar hoor, natuurlik tot sy liewe ou vrou se groot frustrasie.

Sy waarsku hom gereeld dat daar ‘n dag sal aanbreek wat hy wakker word met sy longe op sy bors. Uitgesnork!

Een oggend vroeg het sy laat skaap slag soos dit elke tweede week die gewoonte was. Manlief het nog lekker geslaap en gesnork dat die werksmense sy snorkery anderkant die huis kon hoor.

Die ou tannie kry toe die gedagte om manlief behoorlik skrik op die lyf te jaag. Sy vat die skaaplonge, sit dit op sy bors en trek die kamerdeur toe.

Na ‘n paar minute het die gesnork opgehou en ‘n doodse stilte het geheers. Die stilte het lank aangehou en later het vroulief bekommerd geraak en gaan inloer.

Die ou oom het doodsbleek op die bed gelê en die skaaplonge was nêrens te sien nie.
“Ou vrou,” het die ou oom gesê. “Jy sal dit nie glo nie, maar ek het vanoggend wakker geword met my longe op my bors! Ek het besef dat ek my longe uitgesnork het, net soos jy gesê het. Ek het my yskoud geskrik en was so benoud dat ek nie kon asem kry nie. Gelukkig het die verestoffer hier langs die bed gestaan en kon ek my longe met die verestoffer se stok versigtig terug druk.”